Anne Provoost is in 1964 gebore en het opgegroei in die klein Belgiese dorpie, Woesten. Sy debuteer in 1990 met Mijn tante is een grindewal – en wen dadelik die Boekenleeuw, een van Vlaandere se belangrikste jeugboekpryse daarvoor. Die boek wen ook die Interprovinciale Prijs voor Jeugdliteratuur en word in ses tale vertaal. Haar tweede jeugroman, Vallen verskyn in 1994 en handel oor rassisme en die verleiding van ekstrimisme. Die boek word bekroon met die Libris Woutertje Pieterse Prijs, die Gouden Uil, die Boekenleeuw, die Interprovinciale Prijs voor Jeugdliteratuur en die Nederlandse Zilveren Griffel. Meer as 100 000 eksemplare van die boek is al gedruk en dit is in twaalf tale vertaal. In 2001 is die boek verfilm deur Hans Herbots as Falling.

Provoost se volgende boek, De Roos en de Zwijn, geïnspireer deur die sprokie, Skoonlief en die Ondier (Beauty and the Beast), verskyn in 1998. Ook hierdie boek wen die Boekenleeuw en Gouden Zoen en ook die Duitse Jugendbuchpreis der Jungen Leser. Haar laaste roman, De Arkvaarders (2001) is ‘n hervertelling van die sondvloedverhaal en ook hierdie boek wen sy kwota pryse.

Anne Provoost se hoofkarakters word dikwels met ‘n moeilike opdrag opgesaal – soos om te help om ‘n ark te bou met die wete dat daar oor ‘n kort tydjie net ‘n paar plekke op die einste ark beskikbaar gaan wees. In Mijn tante is een grindewal verswyg ‘n meisie vir baie jare dat haar pa haar misbruik en in Vallen verswyg ‘n ma die verwerplike oorlogsverlede van haar oupa. Haar seun, die hoofkarakter, raak in die ban van ‘n neo-Nazi en dit lyk of die geskiedenis van die oupa herhaal gaan word. De Roos en de Zwijn handel tot ‘n groot mate oor die seksuele rypwording van ‘n jong meisie. Provoost sê dat die sprokie nog altyd vir haar tekenend was van hoe jong meisies eers van die vaderfiguur in hulle lewens moet afstand doen voordat hulle seksueel volwasse kan word.

Sy bestee baie aandag aan navorsing – dikwels neem dit veel meer tyd in beslag as die skryfproses self. Hoewel jongmense die hoofrolle in haar boeke speel, is daar nie veel wat haar werk onderskei van literatuur vir volwassenes nie. Die struktuur van haar verhale is kompleks. Die verskillende verhaallyne ontvou stadig en kom aan die einde weer bymekaar uit.

Anne skryf ook toneel, essays en kortverhale. Sy is in België aangewys as Ambassadeur vir die Hans Christiaan Andersenjaar. Sy is ‘n voltydse skrywer en woon met haar man en drie kinders in Antwerpen.

Bron: Storiewerf