|

Die roos en die swyn
EERSTE HOOFSTUK Hoe ek gebore en deur elwe opgevang is,
hoe niemand geglo het dat ek sou bly lewe nie, oor die wonderlike spieël
van moeder wat ek van my vader as geskenk gekry het en hoe my moeder 'n
tydjie daarna gesterf het.
Van my word gesê dat ek die mooiste vrou op die
aarde is. Ek het rooi lippe, 'n sneeuwit vel en hande soos kosbare skulpe.
In die Onse Liewe Vrou-kerk staan heilige beelde wat na my beeltenis gemaak
is. Mense dink dat ek soos die Heilige Maagd Maria lyk, maar die waarheid
is dat die Maagd na my lyk; dit het die beeldhouers met trane in hul oë
aan my kom bieg.
Ek is nie mooi gebore nie. My skoonheid het met die tyd gekom, terwyl
ek opgegroei het, en dit is 'n verdienste van die elwe. Hulle het my gevoed
en in beskerming geneem. Omdat my skoonheid van hulle af kom, kan ek nie
daarvan ontsnap nie. Dit staan soos 'n harnas om my heen. Lank gelede
was ek lelik en onvolgroeid. Maar ek was ongeskonde. Nou is ek volmaak,
maar geraak. Ek kan nie meer na die oorspronklike staat terugkeer nie.
Die eerste vrou wat my gesien het, was my moeder en nie die vroedvrou
Lucretia, soos by die geboorte van my twee susters nie, want sy het die
kamer uitgevlug die oomblik toe my koppie verskyn het. Skuldig het Lucretia
in die voortuin gedrentel. Telkens wanneer sy in die huis gekom en haar
kop om die kamerdeur gesteek het, het my moeder haar weggejaag. Daar was
niemand anders in die huis nie. My susters is na die rivier gestuur en
daar was buitendien nooit baie personeel in die huishouding van my moeder
gewees nie. Hoewel sy my op daardie oomblik nog nie kon sien nie, het
my moeder geweet dat daar iets verkeerd was. Lucretia, wat sy geken het,
teenoor wie sy dankbaar was en as 'n goeie vriendin beskou het, moes soveel
moontlik uit haar buurt bly: 'n mismaakte kind sou vir haar 'n afranseling
beteken, 'n ernstig mismaakte kind 'n tronkstraf of die einde van haar
loopbaan as vroedvrou.
Vertaling Riana Scheepers
|